Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | JY KAN NA AAN GOD WEES

Voel jy na aan God?

Voel jy na aan God?

“’n Hegte verhouding met God gee jou ’n gevoel van veiligheid, volkomenheid en stabiliteit. Dit voel asof God altyd na jou belange omsien.”—CHRISTOPHER, ’N JONG MAN IN GHANA.

“God sien jou wanneer jy wanhopig voel en gee jou meer liefde en aandag as waarvoor jy ooit kon vra.”—13-JARIGE HANNAH, ALASKA, VSA.

“Dit is wonderlik en kalmerend om te weet dat jy ’n hegte verhouding met God het!”—GINA, ’N VROU IN JAMAIKA IN HAAR VEERTIGERJARE.

Christopher, Hannah en Gina is nie die enigstes wat so voel nie. Baie mense regoor die wêreld is oortuig dat God hulle as sy vriende beskou. Wat van jou? Voel jy dat jy na aan God is? Of sal jy graag nader aan hom wil kom? Jy wonder dalk: ‘Is dit werklik vir ’n blote mens moontlik om ’n hegte verhouding met God die Almagtige te hê? En indien wel, hoe?’

DIT IS MOONTLIK OM NA AAN GOD TE WEES

Volgens die Bybel is dit moontlik om ’n hegte, persoonlike verhouding met God te hê. Die Bybel sê dat God die Hebreeuse aartsvader Abraham “my vriend” genoem het (Jesaja 41:8). Let ook op die hartlike uitnodiging in Jakobus 4:8: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Dit is dus duidelik dat ’n hegte verhouding—’n vriendskap—met God moontlik is. Maar hoe kan jy ‘nader aan God kom’ en ’n goeie verhouding met hom geniet, aangesien hy onsigbaar is?

Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons dink aan hoe ’n vriendskap tussen mense ontwikkel. Dit begin gewoonlik wanneer twee mense mekaar se naam leer ken. Dan, namate hulle gereeld met mekaar kommunikeer en mekaar vertel wat hulle dink en hoe hulle voel, word hulle vriendskap hegter. En wanneer hulle dinge vir mekaar probeer doen, versterk dit hulle vriendskap nog verder. Iets soortgelyks gebeur wanneer ’n hegte verhouding met God opgebou word. Kom ons kyk waarom dit die geval is.