Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Moet jy bid?

Moet jy bid?

‘Waarom moet ek bid as God alles weet, insluitende wat my gedagtes en behoeftes is?’ vra jy dalk. Dit is ’n geldige vraag. Het Jesus nie gesê dat God “weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra” nie? (Matteus 6:8). Koning Dawid van eertydse Israel het besef dat dit die geval is en geskryf: “Daar is nog geen woord op my tong nie, maar kyk! o Jehovah, u weet dit reeds alles” (Psalm 139:4). Waarom moet ons ons dan in gebed tot God wend? Om die antwoord te vind, kan ons kyk wat die Bybel oor die gebede van God se aanbidders sê. *

“Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”Jakobus 4:8

 GEBED LAAT ONS NADER AAN GOD KOM

Hoewel die Bybel sê dat Jehovah * God alles weet, toon dit ook dat hy nie bloot inligting oor sy aanbidders wil versamel nie (Psalm 139:6; Romeine 11:33). Sy onbeperkte geheue is nie soos dié van ’n rekenaar, wat inligting oor individue werktuiglik berg nie. God stel eerder opreg belang in ons diepste gedagtes, want hy wil hê dat ons nader aan hom moet kom (Psalm 139:23, 24; Jakobus 4:8). Daarom het Jesus sy volgelinge aangespoor om te bid, al weet sy Vader goed wat ons nodig het (Matteus 6:6-8). Hoe meer ons ons Skepper van ons gedagtes vertel, hoe nader sal ons aan hom kom.

Dit is soms vir ons moeilik om te weet presies wat om in gebed te vra. In so ’n geval kan God selfs verder as ons onuitgesproke gevoelens sien en sy volmaakte kennis van ons omstandighede gebruik om in ons behoeftes te voorsien (Romeine 8:26, 27; Efesiërs 3:20). Wanneer ons besef dat God, selfs op onopvallende maniere, in ons persoonlike lewe ingegryp het, voel ons aangetrokke tot hom.

VERHOOR GOD ALLE GEBEDE?

Die Bybel verseker ons dat God die Almagtige die gebede van sy getroue knegte verhoor, maar dit gee ook redes waarom hy nie na party gebede luister nie. Byvoorbeeld, toe geweld in eertydse Israel hoogty gevier het, het God sy profeet Jesaja beveel om vir die volk te sê: “Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie; julle hande is vol bloedvergieting” (Jesaja 1:15). Dit is duidelik dat diegene wat God se wette minag of met verkeerde beweegredes bid, nie kan verwag dat God na hulle gebede sal luister nie.Spreuke 28:9; Jakobus 4:3.

Maar die Bybel sê dat “hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Beteken dit dat God elke versoek van sy aanbidders altyd sal toestaan? Nie noodwendig nie. Beskou die geval van die apostel Paulus, wat God drie keer gesmeek het om vir hom “’n doring in die vlees” te verwyder (2 Korintiërs 12:7, 8). Paulus het dalk ’n chroniese oogkwaal gehad. Hoe frustrerend moes dit tog vir hom gewees het! Paulus het die gawe van genesing gehad en het selfs ’n opstanding verrig; tog moes hy sy eie kwaal verduur (Handelinge 19:11, 12; 20:9, 10). Hoewel sy gebede nie verhoor is op die manier wat hy wou hê nie, het Paulus God se antwoord met dankbaarheid aanvaar.2 Korintiërs 12:9, 10.

“Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra.” —1 Johannes 5:14

Party Bybelkarakters se gebede is weliswaar wonderdadig verhoor (2 Konings 20:1-7). Maar dit was die uitsondering, selfs in Bybeltye. Sommige gelowiges was verontrus wanneer dit gelyk het of God nie hulle gebede verhoor het nie. Koning Dawid het gevra: “Hoe lank, o Jehovah, sal u my vergeet? Vir ewig?” (Psalm 13:1). Maar toe hierdie getroue man besef hoe dikwels Jehovah tot sy redding gekom het, het hy opnuut bevestig dat hy op God vertrou. In dieselfde gebed het Dawid bygevoeg: “Wat my betref, op u liefderyke goedhartigheid het ek vertrou” (Psalm 13:5). God se hedendaagse aanbidders sal moontlik, soos Dawid, moet volhou met gebed totdat hulle onderskei dat God hulle verhoor het.Romeine 12:12.

 HOE GOD GEBEDE VERHOOR

God reageer wanneer ons werklik ’n behoefte het.

Liefdevolle ouers gee tereg nie altyd vir hulle kinders wat hulle vra wanneer hulle dit vra nie. Net so sal God dalk nie ons gebede verhoor op die manier of op die tydstip wat ons dink hy moet nie. Maar ons kan vol vertroue wees dat ons Skepper, soos ’n liefdevolle vader, op die regte tyd en op die regte manier sal reageer wanneer ons werklik ’n behoefte het.Lukas 11:11-13.

God kan die Bybel gebruik om ’n antwoord te voorsien op ’n versoek om hulp

God verhoor ons dalk op onopvallende maniere.

Maar sê nou ons bid om ’n oplossing vir ’n voortslepende probleem te kry? Moet ons, as ons gebede nie wonderdadig verhoor word nie, tot die slotsom kom dat Jehovah ons glad nie verhoor het nie? Nee, ons moet ons eerder afvra of God ons nie al op onopvallende maniere gehelp het nie. Byvoorbeeld, ’n liefdevolle vriend het miskien gedoen wat hy kon om ons op presies die regte tyd te help (Spreuke 17:17). Is dit moontlik dat Jehovah hierdie besorgde vriend beweeg het om ons te help? God kan ook die Bybel gebruik om ’n antwoord te voorsien op ’n versoek om hulp. Daarin sal ons moontlik die insig vind wat nodig is om ’n moeilike situasie die hoof te bied.2 Timoteus 3:16, 17.

God kan besorgde vriende gebruik om ons op presies die regte tyd te help

Dikwels verwyder God nie ’n persoonlike probleem nie, maar gee hy eerder sy knegte die krag om dit die hoof te bied (2 Korintiërs 4:7). Toe Jesus byvoorbeeld sy Vader gesmeek het om ’n beproewing weg te neem omdat hy bang was dat dit God se naam oneer sou aandoen, het Jehovah ’n engel gestuur om sy Seun te versterk (Lukas 22:42, 43). God kan eweneens ’n hegte vriend gebruik om ons aan te moedig wanneer ons dit werklik nodig het (Spreuke 12:25). Ons moet dus op die uitkyk wees na die onopvallende maniere waarop God ons gebede verhoor.

Party gebede word eers op God se bestemde tyd verhoor.

Die Bybel sê dat God die Almagtige “op die bestemde tyd” aan die nederiges guns betoon (1 Petrus 5:6). As dit lyk asof hy talm om ons opregte gebede te verhoor, moet ons dus nie dink dat Jehovah nie in ons belangstel nie. Omdat ons liefdevolle Skepper sake vanuit ’n veel verhewener oogpunt beskou, oorweeg hy ons versoeke ongetwyfeld in die lig van wat hy weet die beste vir ons is.

“Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat hy julle op die bestemde tyd kan verhef.”1 Petrus 5:6

Ter toeligting: Stel jou voor dat jou jong seun jou vra om vir hom ’n fiets te koop. Sal jy sy versoek onmiddellik toestaan? As jy meen dat hy nog nie verantwoordelik genoeg is om ’n fiets te ry nie, sal jy dalk besluit om dit nie nou te koop nie. Maar jy sal sy versoek miskien later toestaan wanneer jy weet dat dit tot sy voordeel sal wees. Net so sal God die gepaste “versoeke van [ons] hart” op die bestemde tyd toestaan as ons aanhou bid.Psalm 37:4.

WEES VOL VERTROUE DAT JEHOVAH LUISTER

Die Bybel spoor ware Christene aan om nie vertroue te verloor in die waarde van gebed nie. ‘Dit is makliker gesê as gedaan’, sê party miskien. Ja, as ons met ’n voortslepende probleem worstel of die een of ander onreg verduur, vind ons dit dalk moeilik om op God se antwoord te wag. Maar dit sal goed wees om te onthou wat Jesus ons oor volharding in gebed geleer het.

 Jesus het ’n illustrasie vertel van ’n behoeftige weduwee wat bly teruggaan het na ’n onregverdige regter om geregtigheid te verkry (Lukas 18:1-3). Hoewel die regter aanvanklik geweier het om haar te help, het hy uiteindelik vir homself gesê: “Ek [sal] sorg dat reg aan haar geskied, sodat sy nie aanhoudend sal kom en my slaan tot ek gedaan is nie” (Lukas 18:4, 5). Volgens die teks in die oorspronklike taal het die regter aan die weduwee aandag geskenk sodat sy hom nie “onder die oog [sou] slaan”, oftewel sy “reputasie [sou] skaad” nie. * As selfs ’n onregverdige regter ’n arm weduwee sal help uit vrees dat sy reputasie geskaad sal word, hoeveel te meer sal ons liefdevolle God reg laat geskied aan dié “wat dag en nag tot hom roep”! Soos Jesus gesê het, sal God “gou reg aan hulle laat geskied”.Lukas 18:6-8.

“Hou aan vra, en vir julle sal gegee word.”Lukas 11:9

Hoewel ons soms moeg daarvoor kan word om hulp of guns te vra, moet ons nie tou opgooi nie. As ons volhou met gebed, toon dit dat ons ’n opregte begeerte het om God se hand in ons lewe te sien. Ons leer ook om te onderskei hoe God ons gebede verhoor, en gevolglik kom ons nader aan hom. Ja, ons kan vol vertroue wees dat Jehovah ons gepaste gebede sal verhoor as ons in geloof aanhou vra.Lukas 11:9.

^ par. 3 As ons wil hê dat God na ons gebede moet luister, moet ons opreg probeer om aan sy vereistes te voldoen. Dan sal ons moontlik die krag van gebed ondervind, wat in hierdie artikel bespreek word. Vir meer inligting, sien hoofstuk 17 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 5 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

^ par. 22 In Bybeltye het God van regters in Israel verwag om spesiale aandag aan weduwees en wese te skenk.Deuteronomium 1:16, 17; 24:17; Psalm 68:5.