Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe is jare en maande in Bybeltye bepaal?

VIR die Hebreërs in die Beloofde Land het die sekulêre jaar begin met ploeg- en saaiwerk in die tyd wat ons nou ken as September/Oktober.

’n Maankalender van 12 maande (wat elk uit 29 of 30 dae bestaan) is korter as ’n normale sonjaar. Verskillende metodes is gebruik om die twee met mekaar te laat ooreenstem. Dit kan gedoen word deur ekstra dae of nou en dan ’n ekstra maand by te voeg, dalk voor die begin van die nuwe jaar. Op hierdie manier sou die kalender ooreenstem met die seisoene om te plant en te oes.

Maar in Moses se tyd het God vir sy volk gesê dat die godsdienstige jaar met die maand Abib, of Nisan, in die lente moes begin (Eks. 12:2; 13:4). ’n Fees wat gedurende hierdie maand plaasgevind het, het die garsoes ingesluit. – Eks. 23:15, 16.

Die geleerde Emil Schürer het in sy boek The History of the Jewish People in the Age of Jesus Christ, (175 B.C.–A.D. 135) gesê dat dit maklik was om te weet wanneer om ’n ekstra maand in die kalender by voeg. Hy het ook gesê dat die Pasgafees, wat gevier moet word wanneer die maan vol is in die maand Nisan (14 Nisan), altyd moet plaasvind ná die dag in die lente wanneer die dag en die nag ewe lank is. ’n Dertiende maand sou dus ingevoeg word voor Nisan as hulle teen die einde van die jaar besef het dat die Pasga voor daardie dag sou val.

Jehovah se Getuies gebruik hierdie metode wanneer hulle vasstel wat die gepaste datum is vir die Here se Aandmaal, wat in die lente plaasvind en ooreenstem met 14 Nisan op die Hebreeuse kalender. Gemeentes regoor die wêreld word voor die tyd van hierdie datum in kennis gestel. *

Maar hoe het die Hebreërs geweet wanneer een maand sou eindig en die volgende maand sou begin? Vandag kan jy net na ’n gedrukte kalender of ’n kalender-app op jou elektroniese toestel kyk. Maar in Bybeltye was dit nie so maklik nie.

Teen die tyd van die Vloed was maande 30 dae lank (Gen. 7:11, 24; 8:3, 4). Later, onder die Hebreërs, was die kalendermaand nie altyd 30 dae lank nie. Vir die Hebreërs het ’n nuwe maand begin sodra hulle die nuwe maan kon sien. Dit was 29 of 30 dae ná die begin van die vorige maand.

Eenkeer het Dawid en Jonatan albei van die begin van ’n nuwe maand gepraat en gesê: “Môre is dit nuwemaan” (1 Sam. 20:5, 18). So dit lyk asof die maande teen die 11de eeu VHJ voor die tyd vasgestel was. Hoe sou ’n gewone Israeliet weet wanneer ’n nuwe maand begin? Die Misjna, ’n versameling Joodse mondelinge wette en tradisies, gee vir ons ’n bietjie inligting. Dit wys dat die Sanhedrin (die Joodse Hoë Raad) betrokke was nadat die Jode uit ballingskap gekom het. Gedurende die sewe maande waarin die feeste gehou was, het die raad op die 30ste dag van die maand bymekaargekom. Daardie manne was verantwoordelik om te bepaal wanneer die volgende maand sou begin. Hoe het hulle dit gedoen?

Manne wat op hoë plekke rondom Jerusalem geplaas is, het die naglug dopgehou vir die eerste verskyning van ’n nuwe maan. Hulle sou dan die Sanhedrin dadelik laat weet. Wanneer die Sanhedrin gevoel het dat daar genoeg bewyse was dat daar ’n nuwe maan gesien is, het hulle die begin van ’n nuwe maand aangekondig. Maar wat as daar wolke of mis was wat gekeer het dat hulle die nuwe maan kon sien? Hulle sou dan sê dat die maand waarin hulle was, 30 dae het en die nuwe maand kon begin.

Die Misjna verduidelik dat die Sanhedrin se besluit aangekondig is deur middel van ’n vuur wat aangesteek is op die Olyfberg, naby Jerusalem. Vure sou op ander hoë plekke regdeur Israel aangesteek word om die nuus te versprei. Later is boodskappers gebruik. Op hierdie manier is die Jode in Jerusalem en in ander plekke ingelig dat die nuwe maand begin het. Almal kon dan die seisoenfeeste op dieselfde tyd vier.

Die bykomende tabel sal jou help om die maande, feeste en seisoene van die Hebreeuse kalender te verstaan.

^ Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1990, bl. 15, en “Vrae van lesers” in die Engelse uitgawe van 15 Junie 1977.