Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het die Israeliete in die wildernis enige iets anders gehad om te eet as manna en kwartels?

Die Israeliete het meestal manna geëet gedurende hulle 40 jaar in die wildernis (Eks. 16:35). Jehovah het ook kwartels op twee geleenthede voorsien (Eks. 16:​12, 13; Num. 11:31). Maar die Israeliete het ’n beperkte aantal ander kos gehad om te eet.

Byvoorbeeld, Jehovah het partykeer sy volk na “’n rusplek” gelei waar daar water was om te drink en kos om te eet (Num. 10:33). Een van daardie plekke was die oase by Elim, “waar daar 12 waterfonteine en 70 palmbome was” – ongetwyfeld dadelpalms (Eks. 15:27). Die boek Plants of the Bible sê dat die dadelpalm, wat op baie verskillende plekke groei, die plant is wat die meeste gebruik word as kos in die woestyn. Dit word gebruik om kos, olie en blyplek aan miljoene mense te voorsien.

Die Israeliete het dalk ook gestop by die groot oase wat vandag bekend staan as Feiran, wat deel is van die Feiran-valleivlakte. a Hierdie riviervallei “is 130 kilometer lank en is een van die langste, pragtigste en bekendste valleie in Sinai”, sê die boek Discovering the World of the Bible. Die boek het ook gesê dat as iemand 45 kilometer reis van waar die riviermond is, hy die Feiran-oase sal bereik. Die oase is omtrent 610 meter bo seevlak en is 4,8 kilometer lank. Daar is baie palmbome, en dit is so pragtig dat dit al vergelyk is met die tuin van Eden. Mense kom al duisende jare hierheen as gevolg van die duisende palmbome.

Dadelpalms in die Feiran-oase

Toe hulle Egipte verlaat het, het die Israeliete meel, bakke om die deeg te knie en moontlik graan en olie saamgeneem. Hierdie dinge het natuurlik nie lank gehou nie. Die volk het ook ’n baie groot hoeveelheid “kleinvee en beeste” saamgeneem (Eks. 12:​34-39). Maar omdat die toestande in die wildernis baie erg was, het baie van die diere gesterf. Party van hulle het dalk vir die Israeliete as kos gedien. Ander diere is dalk geoffer, selfs aan valse gode (Hand. 7:​39-43). b Maar die Israeliete het nog kleinvee en beeste gehad, soos ons kan sien uit Jehovah se woorde aan sy volk toe hulle ongehoorsaam was aan hom: “Julle kinders sal 40 jaar lank herders in die wildernis wees” (Num. 14:33). So dit is moontlik dat hulle kleinvee van tyd tot tyd melk en vleis voorsien het, maar dit was beslis nie genoeg om 40 jaar lank vir ongeveer drie miljoen mense te sorg nie. c

Waar het die diere kos en water gekry? d Op daardie stadium was daar dalk meer reën en meer plante in die wildernis. Insight on the Scriptures, deel 1, sê dat daar 3 500 jaar gelede meer water in die gebied was waar die Israeliete was as wat daar vandag is. Ons weet dit omdat daar baie diep en droë valleie is wat veroorsaak is deur riviere wat voorheen daar was. Maar die wildernis was nog steeds ’n droë en gevaarlike plek (Deut. 8:​14-16). Sonder die water wat Jehovah deur ’n wonderwerk voorsien het, sou die Israeliete en hulle diere beslis gesterf het. – Eks. 15:​22-25; 17:​1-6; Num. 20:​2, 11.

Moses het vir die Israeliete gesê dat Jehovah hulle met die manna gevoed het “om [hulle] te leer dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens van elke woord uit Jehovah se mond lewe”. – Deut. 8:3.

a Sien Die Wagtoring van 1 Mei 1992, bl. 24-25.

b Die Bybel praat van twee geleenthede toe diere aan Jehovah in die wildernis geoffer is. Die eerste geleentheid was toe die priesterdom ingestel is; die tweede was by die Pasga. Albei gebeure het in 1512 VHJ plaasgevind, omtrent ’n jaar nadat Israel Egipte verlaat het. – Lev. 8:14–9:24; Num. 9:​1-5.

c Na aan die einde van die 40 jaar in die wildernis het die Israeliete honderdduisende diere as oorlogsbuit geneem (Num. 31:​32-34). Maar hulle het nog steeds manna geëet totdat hulle die Beloofde Land binnegegaan het. – Jos. 5:​10-12.

d Daar is geen aanduiding dat die diere manna geëet het nie omdat Jehovah vir die volk gesê het om die manna bymekaar te maak volgens hoeveel elke persoon sou eet. – Eks. 16:​15, 16.