Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulda het haar doel bereik

Hulda het haar doel bereik

AS JY die klein eiland Sangir Besar in Indonesië ’n paar jaar terug besoek het, sou jy dalk drie van ons Christensusters op die strand gesien het. Hulle is baie bekend op die eiland vir hulle bediening – om mense te help om die Bybel te verstaan. Maar daardie dag het hulle iets heeltemal anders gedoen.

Die eiland Sangir Besar in die noordelike deel van Indonesië

Eerstens het hulle in die water geloop, swaar klippe gevind en dit terug strand toe gedra. Party van die klippe was so groot soos sokkerballe. Dan het die vrouens op klein houtstoeltjies gesit en byle gebruik om die klippe in stukke kleiner as ’n hoendereier te kap. Daarna het hulle die klein klippe in plastiekemmers gesit en dit by trappe opgedra na die plek waar hulle gebly het. Toe het hulle die klippe in groot sakke gesit wat op trokke gelaai kon word en wat as materiaal gebruik kon word om paaie mee te bou.

Hulda maak klippe bymekaar op die strand

Een van hierdie susters was Hulda. Haar omstandighede het haar toegelaat om meer tyd as die ander aan hierdie werk te spandeer. Sy het die geld wat sy verdien het, gewoonlik gebruik om vir die dinge te betaal wat haar gesin daagliks nodig gehad het. Maar nou wou sy ook van die geld spaar vir iets anders. Sy wou ’n elektroniese tablet kry sodat sy die JW Library®-app kon gebruik. Hulda het geweet dat die video’s en ander inligting in die app haar sou help om vir ander te preek, te studeer en die Bybel beter te verstaan.

Hulda het elke oggend vir ’n maand en ’n half twee uur lank gewerk en genoeg klippe gekap om die agterkant van ’n klein trok vol te maak. Uiteindelik het sy genoeg geld gehad om die tablet te koop.

Hulda met haar tablet

Hulda het gesê: “Al was ek doodmoeg en seer van klippe kap, het ek vinnig vergeet van al die pyne toe hierdie nuwe tablet my gehelp het om effektiewer in die bediening te wees en om makliker vir die Christelike vergaderinge voor te berei.” Sy het ook gesê dat die tablet haar aan die begin van die pandemie gehelp het, aangesien al die gemeentelike aktiwiteite virtueel gehou is. Ons is saam met Hulda bly omdat sy haar doel bereik het.