Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Nineve was ’n stad met indrukwekkende geboue en monumente

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat het ná Jona se tyd met Nineve gebeur?

TEEN die sewende eeu VHJ was Assirië die grootste ryk in die wêreld. Volgens die Britse Museum se blog het dit “gestrek vanaf Siprus in die weste tot Iran in die ooste, en op een stadium het dit selfs Egipte ingesluit”. Sy hoofstad, Nineve, was die grootste stad in die wêreld. Dit het indrukwekkende monumente, asemrowende tuine, luukse paleise en groot biblioteke gehad. Inskripsies op die mure van eertydse Nineve wys dat koning Assurbanipal, net soos ander Assiriese konings, homself “koning van die wêreld” genoem het. Op daardie stadium het dit gelyk asof Assirië en Nineve nie oorwin kon word nie.

Die magtige Assiriese Ryk was die grootste ryk in die wêreld van daardie tyd

Maar toe Assirië op sy magtigste was, het Jehovah se profeet Sefanja voorspel: “[Jehovah] sal . . . Assirië vernietig, en hy sal Nineve ’n verlate plek maak, so droog soos ’n woestyn.” En Jehovah se profeet Nahum het voorspel: “Vat die silwer, vat die goud! . . . Die stad is leeg, verlate en verwoes! . . . Almal wat jou sien, sal van jou af wegvlug en sê: ‘Nineve is verwoes!’” (Sef. 2:13; Nah. 2:9, 10; 3:7). Toe die mense van daardie tyd hierdie profesieë hoor, het hulle seker gewonder: ‘Is dit moontlik? Kan die magtige Assirië ooit oorwin word?’ Dit het seker ongelooflik geklink.

Nineve het soos ’n verlate woestyn geword!

Maar al het dit onmoontlik geklink, het die Babiloniërs en die Mede Assirië teen die einde van die sewende eeu VHJ oorwin. Uiteindelik het niemand meer in die stad gebly nie, en mense het toe heeltemal van die stad vergeet. Volgens ’n publikasie wat uitgegee is deur die Metropolitan Museum of Art in New York was Nineve “teen die Middeleeue heeltemal verlate en begrawe en het mense net as gevolg van die Bybel van Nineve se bestaan geweet”. En volgens die aanlyn argief van die Biblical Archaeology Society het niemand teen die vroeë 1800’s “eers geweet of die groot Assiriese hoofstad ooit regtig bestaan het nie”. Maar in 1845 het die argeoloog Austen Henry Layard die ruïnes van Nineve begin opgrawe. Daardie ruïnes het bewys hoe groot en hoe pragtig Nineve in die verlede was.

Die feit dat die profesieë oor Nineve waar geword het, versterk ons vertroue dat Bybelprofesieë oor die einde van die politieke magte van vandag ook waar sal word. – Dan. 2:44; Op. 19:15, 19-21.