Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe wys bakstene wat in eertydse Babilon gevind is en die manier hoe dit gemaak is dat die Bybel akkuraat is?

ARGEOLOË het miljoene gebakte bakstene in eertydse Babilon ontdek wat gebruik is om die stad te bou. Volgens argeoloog Robert Koldewey is sulke bakstene gebak in vuuroonde “buite die stad, waar daar goeie klei was en waar daar baie bosse was wat as brandstof gebruik kon word”.

Eertydse verslae wys dat Babiloniese amptenare ook hulle vuuroonde gebruik het om iets baie wreeds te doen. Paul-Alain Beaulieu, ’n professor wat ’n kenner is in die geskiedenis en taal van die eertydse Assiriërs by die Universiteit van Toronto, sê: “Babiloniese geskrifte wys dat die koning beveel het dat dié wat ongehoorsaam was aan hom of wat nie respek vir heilige dinge gehad het nie in ’n vuuroond gegooi en daar verbrand moes word.” Byvoorbeeld, ’n geskrif uit die tyd van koning Nebukadnesar sê: “Vernietig hulle, verbrand hulle, braai hulle, . . . gooi hulle in die kok se oond . . . laat hulle rook opgaan, maak hulle dood deur hulle in die vuur te gooi.”

Dit herinner Bybellesers aan die gebeure wat in Daniël hoofstuk 3 beskryf word. Ons lees daar dat koning Nebukadnesar ’n massiewe beeld opgerig het wat van goud gemaak is op die Dura-vlakte – buite die stad Babilon. Toe drie jong Hebreeuse mans met die name Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om voor die beeld neer te buig, het Nebukadnesar woedend geword en het hy beveel dat ’n vuuroond “sewe keer warmer as gewoonlik” gemaak moes word en dat die drie mans “in die brandende vuuroond gegooi” moes word. ’n Kragtige engel het hulle van die dood gered. – Dan. 3:1-6, 19-28.

© The Trustees of the British Museum. Licensed under CC BY-NC-SA 4.0. Source

’n Gebakte baksteen met Nebukadnesar se naam daarop

Die bakstene wat in Babilon gevind is, wys ook dat die Bybel akkuraat is. Baie van hierdie bakstene het inskripsies daarop wat die koning loof. Een van daardie inskripsies sê: “Nebukadnesar, koning van Babilon . . . Die paleis, wat ek die Groot Koning gebou het . . . Mag my nakomelinge vir ewig daarin regeer.” Hierdie inskripsie is baie soortgelyk aan die woorde in Daniël 4:30, waar Nebukadnesar gespog het: “Is dit nie Babilon die Grote wat ek vir die koninklike huis gebou het met my eie krag en mag en vir die heerlikheid van my majesteit nie?”