Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

In watter voertuig het die Etiopiese eunug gery toe Filippus na hom toe gekom het?

DIE woord wat in die oorspronklike taal met “strydwa” vertaal word in die Nuwe Wêreld-vertaling kan na verskillende soorte strydwaens verwys (Hand. 8:​28, 29, 38). Maar dit lyk asof die Etiopiër in ’n voertuig gery het wat groter was as ’n eenvoudige militêre of resies-strydwa. Kyk na ’n paar redes vir hierdie gevolgtrekking.

Die Etiopiër was ’n hoë amptenaar wat baie ver gereis het. Hy was “’n man met gesag in die regering van Kandake, die koningin van die Etiopiërs. Hy was in beheer van al haar skatte” (Hand. 8:27). Eertydse Etiopië het hedendaagse Soedan ingesluit, en die suidelikste deel van hedendaagse Egipte. Al het die man dalk nie vir die hele reis in dieselfde voertuig gery nie, het hy seker bagasie vir die lang reis gehad. Party van die voertuie wat in die eerste eeu HJ gebruik is om passasiers te vervoer, was bedekte strydwaens met vier wiele. “Sulke strydwaens het meer plek gehad vir bagasie, dit gemakliker gemaak om te reis en dit dalk moontlik gemaak om verder te reis,” sê die boek Acts—An Exegetical Commentary.

Die Etiopiër was besig om te lees toe Filippus na hom toe gekom het. Die verslag sê dat “Filippus . . . langs die strydwa gehardloop [het] en . . . gehoor [het] hoe die eunug uit die boek van die profeet Jesaja lees” (Hand. 8:30). Reisende strydwaens was nie gemaak om vinnig te beweeg nie. Omdat hierdie strydwaens stadiger gery het, kon die eunug lees en kon Filippus die strydwa te voet inhaal.

Die Etiopiër het “Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit” (Hand. 8:31). In ’n tipiese resies-strydwa het die ryers gestaan. Maar in ’n reisende strydwa sou daar vir die eunug en vir Filippus plek wees om te sit.

In ooreenstemming met die geïnspireerde verslag in Handelinge hoofstuk 8 en die historiese bewyse wat beskikbaar is, het ons publikasies onlangs prente bevat wat wys dat die Etiopiese eunug in ’n voertuig ry wat groter is as ’n eenvoudige militêre of resies-strydwa.