Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Mikronesië

Hulle het hulle gewillig aangebied—In Mikronesië

KATHERINE het in die Verenigde State grootgeword en is op 16-jarige ouderdom as een van Jehovah se Getuies gedoop. Sy het haar bediening ernstig opgeneem, maar in die gebied waar sy gepreek het, was daar min belangstelling in die Koninkryksboodskap. Sy sê: “Ek het gelees van ondervindinge waar mense tot God bid en hom vra om iemand te stuur om hulle te help sodat hulle hom kan leer ken. Ek het dikwels gewens dat ek so iemand sou ontmoet, maar dit het nooit gebeur nie.”

Nadat Katherine jare lank in daardie selfde gebied gepreek het, het sy dit begin oorweeg om te trek na ’n gebied waar mense ontvankliker vir die Koninkryksboodskap sou wees. Maar sy het gewonder of dit vir haar te moeilik sou wees. Sy was net een keer in haar lewe—oor ’n tydperk van slegs twee weke—weg van haar gesin, en sy het elke dag na hulle verlang. Maar in haar hart wou sy die vreugde ervaar om mense te help wat na Jehovah soek, en dit het haar uiteindelik laat besluit om te trek. Nadat sy etlike plekke oorweeg het, het sy na die takkantoor in Guam geskryf vir inligting. In Julie 2007, op 26-jarige ouderdom, het Katherine na Saipan getrek, ’n eiland in die Stille Oseaan byna 10 000 kilometer van haar huis af. Hoe het sake vir haar afgeloop?

’N ANTWOORD OP TWEE GEBEDE

Kort nadat Katherine in die nuwe gemeente aangekom het, het sy Doris ontmoet, ’n vrou in haar middel-40’s wat ’n Bybelstudie aanvaar het. Nadat hulle die eerste drie hoofstukke van die Leer Bybel-boek bestudeer het, het Katherine bekommerd geraak. “Doris was so ’n goeie student, en ek wou dinge nie bederf nie”, sê sy. “Ek het nooit tevore ’n gereelde Bybelstudie met iemand gehou nie, en ek het gedink dat ’n meer ervare suster met Doris moet studeer, dalk iemand van haar ouderdom.” Katherine het Jehovah in gebed gevra om haar te help om die regte suster te vind. Toe het sy besluit om vir Doris te sê dat sy iemand anders gaan kry om met haar te studeer.

“Voordat ek enigiets vir Doris kon sê”, vertel Katherine, “het sy vir my gesê dat sy met my oor ’n probleem wil praat. Nadat ek na haar geluister het, het ek vir haar vertel hoe Jehovah my gehelp het om ’n soortgelyke situasie te hanteer. Sy het my bedank.” Toe het Doris vir Katherine gesê: “Jehovah gebruik jou om my te help. Toe jy die eerste keer na my huis toe gekom het, was ek al ure lank besig om my Bybel te lees. Ek het gehuil terwyl ek God gevra het om iemand te stuur wat my kon help om die Bybel te verstaan. Toe het jy aan my deur geklop. Jehovah het my gebed verhoor!” Katherine se oë skiet vol trane terwyl sy aan daardie roerende oomblik dink. Sy sê: “Doris se woorde was ’n antwoord op my gebed. Jehovah het dit vir my duidelik gemaak dat ek wel haar studie kan hou.”

Doris is in 2010 gedoop, en vandag hou sy self ’n hele paar Bybelstudies. Katherine sê: “Ek is so dankbaar dat ek uiteindelik ’n opregte persoon kon help om ’n kneg van Jehovah te word!” Vandag dien Katherine as ’n gelukkige spesiale pionier op die eiland Kosrae, in die Stille Oseaan.

DRIE UITDAGINGS—HOE OM DIT DIE HOOF TE BIED

Meer as honderd broers en susters van ander lande (tussen die ouderdomme van 19 en 79) het al gedien waar daar meer hulp nodig is in Mikronesië. Die gevoelens van hierdie ywerige werkers word goed uitgedruk deur Erica, wat in 2006 op die ouderdom van 19 na Guam getrek het. Sy sê: “Dit is vir my so lekker om te pionier in ’n gebied waar mense na die waarheid dors. Ek is baie dankbaar dat Jehovah my gehelp het om hierdie vorm van diens te betree. Dit is die beste lewenswyse!” Vandag smaak Erica die vreugde om te dien as ’n spesiale pionier op Ebeye, in die Marshalleilande. Daar is natuurlik uitdagings om in ’n ander land te dien. Kom ons beskou drie uitdagings en kyk hoe diegene wat na Mikronesië getrek het, dit die hoof bied.

Erica

’n Nuwe lewenswyse. Nadat die 22-jarige Simon in 2007 op die eiland Palau aangekom het, het hy gou agtergekom dat hy net ’n fraksie kon verdien van wat hy voorheen in sy geboorteland, Engeland, verdien het. “Ek moes leer om nie alles te koop wat ek wou hê nie. Ek kies nou versigtig watter kos om te koop, en ek vergelyk pryse om die beste kopie te kry. Wanneer iets breek, soek ek na tweedehandse onderdele en probeer ek iemand kry om my te help om dit reg te maak.” Hoe is hy geraak deur die feit dat hy ’n eenvoudige lewe moet lei? Simon sê: “Dit het my gehelp om te leer wat werklik nodig is in die lewe en hoe ek met minder kan klaarkom. Ek het Jehovah se liefdevolle hand al verskeie kere in my lewe gesien. Gedurende die sewe jaar wat ek hier dien, het ek altyd iets gehad om te eet en ’n plek om te slaap.” Ja, Jehovah ondersteun diegene wat ’n eenvoudige lewe lei omdat hulle die Koninkryk eerste wil stel.—Matt. 6:32, 33.

’n Mens verlang huis toe. Erica sê: “Ek is baie na aan my gesin, en ek was bekommerd dat my verlange huis toe ’n negatiewe uitwerking op my bediening sou hê.” Wat het sy gedoen om haar daarop voor te berei? “Voordat ek getrek het, het ek Wagtoring-artikels oor heimwee gelees. Dit het werklik my hart voorberei om hierdie uitdaging die hoof te bied. In een artikel het ’n ma haar dogter van Jehovah se sorg verseker deur te sê: ‘Jehovah kan baie beter vir jou sorg as wat ek kan.’ Hierdie versekering het my regtig versterk.” Hannah en haar man, Patrick, dien op Majuro, in die Marshalleilande. Hannah verlang wel huis toe, maar sy hanteer haar gevoelens deur haar aandag op die broers en susters in die gemeente toe te spits. Sy sê: “Ek dank Jehovah dikwels vir ons wêreldwye broederskap, want hulle is ook my familie. Sonder hulle liefdevolle ondersteuning sou ek nooit kon dien waar daar meer hulp nodig is nie.”

Simon

Die uitdaging om in te pas. “Wanneer jy in ’n nuwe land aankom, is byna alles anders”, sê Simon. “Ek mis dit soms om grappe te vertel wat mense regtig verstaan.” Erica sê: “Aan die begin het ek uitgesluit gevoel, maar dit het my gehelp om te dink aan waarom ek in die eerste plek getrek het. Ek het nie getrek om persoonlike voordele te ontvang nie, maar om meer vir Jehovah te doen.” Sy voeg by: “Ek het mettertyd wonderlike vriendskappe opgebou, wat vir my kosbaar is.” Simon het hard gewerk om Palauaans te leer, wat hom in staat stel om sy hart wyd oop te maak vir die plaaslike broers en susters (2 Kor. 6:13). Die moeite wat hy doen om die taal te leer, het hom geliefd gemaak by die broers. Ja, wanneer broers wat na die gebied trek, sy aan sy saam met die plaaslike broers werk, kan albei groepe hegte vriendskappe in die gemeente geniet. Watter ander belonings ontvang diegene wat hulle gewillig aanbied om te dien waar daar meer hulp nodig is?

‘MAAI OORVLOEDIG’

Die apostel Paulus het gesê: “Wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai” (2 Kor. 9:6). Die beginsel in hierdie woorde is beslis van toepassing op diegene wat meer doen in hulle bediening. Hoe ‘maai hulle oorvloedig’ in Mikronesië?

Patrick en Hannah

In Mikronesië is daar nog baie geleenthede om Bybelstudies te begin en om eerstehands te sien hoe mense wat die waarheid uit God se Woord leer en toepas, geestelike vordering maak. Patrick en Hannah het ook gepreek op Angaur, ’n klein eilandjie met 320 bewoners. Nadat hulle twee maande lank daar gepreek het, het hulle ’n enkelmoeder ontmoet. Sy het dadelik ’n Bybelstudie aanvaar, die waarheid ingedrink en groot veranderinge in haar lewe aangebring. Hannah sê: “Elke keer wanneer ons ná ’n studie op ons fietse daar weg is, het ons vir mekaar gekyk en gesê: ‘Dankie, Jehovah!’” Hannah voeg by: “Ek weet dat Jehovah hierdie vrou op die een of ander manier na hom toe sou getrek het, maar omdat ons gedien het waar daar meer hulp nodig is, kon ons hierdie skaapgeaarde persoon vind en haar help om Jehovah te leer ken. Dit is een van die lonendste ondervindinge in ons hele lewe!” Soos Erica sê: “Wanneer jy iemand help om Jehovah te leer ken, ondervind jy onbeskryflike vreugde!”

KAN JY ’N AANDEEL HÊ?

In baie lande is daar meer Koninkryksverkondigers nodig. Kan jy dit oorweeg om te trek na ’n gebied waar daar hulp nodig is? Vra Jehovah in gebed om jou begeerte te versterk om jou bediening uit te brei. Bespreek die onderwerp met die ouer manne in die gemeente, met die kringopsiener of met diegene wat al die voorreg gehad het om in ’n land te dien waar daar hulp nodig is. As deel van jou beplanning kan jy skryf aan die takkantoor wat toesig hou oor die gebied waar jy graag wil dien om meer inligting aan te vra. * Dalk kan jy jou ook aansluit by die duisende broers en susters—jonk en oud, getroud en ongetroud—wat hulle gewillig aanbied en die vreugde smaak om ‘oorvloedig te maai’.

^ par. 17 Sien die artikel “Kan jy ‘oorkom na Masedonië’?” in Ons Koninkryksbediening vir Augustus 2011.