Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 IS DIT ONTWERP?

Die huisspinnekop se klewerige geheim

Die huisspinnekop se klewerige geheim

DIE Amerikaanse huisspinnekop (Parasteatoda tepidariorum) maak ’n spinnerak met ’n kleefvermoë wat sterk genoeg kan wees om aan ’n muur vas te kleef of swak genoeg om van die grond af los te kom sodat dit ’n geveerde strik kan wees vir prooi wat op die grond loop. Hoe maak die spinnekop sterk sowel as swak ankers van een soort gom vir sy spinnerak?

Die spinnekop spin hegstukkies van sy op twee verskillende maniere

Dink hieraan: Die spinnekop anker sy spinnerak aan ’n muur, ’n plafon of ’n soortgelyke oppervlak deur uiters klewerige hegstukkies van sy te spin wat sterk genoeg is om die slag te weerstaan wanneer prooi teen die spinnerak vasvlieg. Maar navorsers by die Universiteit van Akron, Ohio, VSA, het ontdek dat die hegstukkies wat aan die grond vas is, heeltemal anders gespin word. Omdat hierdie hegstukkies op baie minder plekke vasgeheg word as dié wat aan ’n muur of plafon vas is, kan die spinnerak maklik van die grond af loskom en enige prooi wat daarin vasloop, vinnig van die grond af optrek.

Volgens ’n persverklaring van die Universiteit van Akron is die navorsers wat hierdie natuurwonder ontdek het, “reeds besig om ’n sintetiese kleefmiddel te probeer maak wat hierdie slim tegniek van die huisspinnekop naboots”. Wetenskaplikes hoop om ’n kleefmiddel te maak wat gebruik kan word vir gewone verbande sowel as vir die behandeling van beenbreuke.

Wat dink jy? Het die huisspinnekop se vermoë om swak en sterk ankers van dieselfde gom te maak, deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?