Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mediese alternatiewe vir bloedoortappings

Mediese alternatiewe vir bloedoortappings

VOORAANSTAANDE deskundiges uit meer as 40 lande het in Moskou bymekaargekom vir die 60ste Internasionale Jubileumkongres van die Europese Vereniging vir Kardiovaskulêre en Endovaskulêre Chirurgie wat 20-22 Mei 2011 gehou is. “Vir dokters is ’n geleentheid soos dié net so betekenisvol soos die Olimpiese Spele vir atlete is”, het ’n Russiese TV-joernalis gesê.

’n Stalletjie wat inligting oor mediese alternatiewe vir bloedoortappings voorsien het, het al drie dae van die kongres baie aandag getrek. Hospitaalinligtingsdienste vir Jehovah se Getuies (HID) het hierdie stalletjie beman. Dokters het gretig honderde voubiljette, boeke, DVD’s en mediese artikels oor hierdie belangrike onderwerp geneem. Daar was veral ’n groot aanvraag na die DVD met die video Transfusion-Alternative Strategies—Simple, Safe, Effective. *

Hospitaalinligtingsdienste vir Jehovah se Getuies het hierdie stalletjie beman. Dokters het gretig honderde voubiljette, boeke, DVD’s en mediese artikels geneem

 Baie dokters wat die stalletjie besoek het, het die belangrikheid van bloedbesparing gedurende operasies bevestig. ’n Hartchirurg van Italië wat ’n lesing by die kongres gehou het, het gesê dat hy goed bekend is met Jehovah se Getuies en dat hy al sowat 70 suksesvolle bloedlose hartoperasies op Getuiepasiënte gedoen het. Hy het ook gesê dat bloedlose chirurgie in sy kliniek iets alledaags is. ’n Professor van die Deutsches Herzzentrum Berlin (Duitse Hartsentrum in Berlyn) het een DVD vir hom en een vir ’n kollega geneem. Hy het vir die gehoor gesê dat hy onlangs ’n bloedlose operasie gedoen het op ’n baba wat net 2,5 kilogram geweeg het; en sy kliniek het al hartoperasies gedoen op babas wat selfs minder geweeg het.

Suksesvolle bloedlose chirurgie is moontlik danksy die regte kombinasie van mediese en chirurgiese bloedbesparingstegnieke, -toestelle en -geneesmiddels

’n Maand ná die kongres in Moskou het dokters uit verskillende lande die Vierde Belomorsk-simposium van Narkotiseurs en Intensiewesorg-geneeskundiges van die Noordwestelike Streek van Rusland, in die stad Archangelsk, bygewoon. HID het ’n soortgelyke inligtingstalletjie daar gehad, en dit het weer eens baie aandag getrek. Toe ’n dokter van St. Petersburg hierdie inligting sien, het sy uitgeroep: “Dit is net wat ons nodig het!” Sy het haar teleurstelling uitgespreek oor die feit dat party van haar kollegas bloot uit gewoonte aanhou om oortappings aan pasiënte met brandwonde te gee. “Julle inligting sal baie nuttig wees by die konferensie oor die behandeling van pasiënte met brandwonde wat in St. Petersburg gehou sal word”, het sy entoesiasties bygevoeg.

Regoor die wêreld besef al hoe meer dokters watter voordele bloedlose geneeskunde en bloedlose chirurgie inhou. Die tyd sal leer of dit eendag die universele goue standaard sal wees wat mediese behandeling betref.

^ par. 3 Vervaardig deur Jehovah se Getuies.