Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Redes om die Bybel te vertrou

5. Vervulde profesieë

5. Vervulde profesieë

Stel jou ’n weervoorspeller voor wat die weer al lank voorspel—en elke keer reg is. Sal jy ’n sambreel saamneem as hy voorspel dat dit gaan reën?

DIE Bybel is vol voorspellings, of profesieë. * Die betroubaarheid daarvan is onbetwisbaar, soos bevestig word deur die geskiedenis. Bybelprofesieë is altyd reg.

Onderskeidende kenmerke.

Bybelprofesieë is dikwels spesifiek en is tot in die fynste besonderheid vervul. Gewoonlik handel hulle oor uiters belangrike sake en voorspel hulle die teenoorgestelde van wat moontlik verwag is deur mense wat gelewe het toe dit opgeteken is.

’n Uitsonderlike voorbeeld.

Antieke Babilon, wat in ’n strategiese posisie aan weerskante van die Eufraatrivier gebou is, is al “die politieke, godsdienstige en kulturele middelpunt van die antieke Ooste” genoem. Omstreeks 732 v.G.J. het die profeet Jesaja ’n onheilspellende profesie opgeteken—Babilon sou val. Jesaja het die volgende besonderhede voorsien: ’n Leier genaamd “Kores” sou die veroweraar wees, die beskermende water van die Eufraat sou “opdroog” en die stad se poorte sou ‘nie gesluit wees nie’ (Jesaja 44:27–45:3). Ongeveer 200 jaar later, op 5 Oktober 539 v.G.J., is die profesie tot in die fynste besonderhede vervul. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus (vyfde eeu v.G.J.) het die manier waarop Babilon geval het, bevestig. *

Die Bybel het akkuraat voorspel dat ’n leier genaamd Kores magtige Babilon sou verower

’n Moedige verklaring.

Jesaja het nog ’n verbasende voorspelling aangaande Babilon gemaak: “Dit sal nooit bewoon word nie” (Jesaja 13:19, 20). Om te voorspel dat ’n uitgestrekte stad wat op ’n strategiese plek geleë was, permanent vernietig sou word, was beslis ’n moedige verklaring. ’n Mens sou gewoonlik verwag dat so ’n stad, as dit vernietig word, herbou sou word. Hoewel Babilon nog ’n ruk lank ná sy verowering voortbestaan het, is Jesaja se woorde uiteindelik bewaarheid. Vandag is die plek waar antieke Babilon gestaan het ’n “plat, warm, verlate en stowwerige” terrein, berig die tydskrif Smithsonian.

Dit is ontsagwekkend om te dink aan wat Jesaja se profesie alles behels het. Wat hy voorspel het, is net soos om die presiese manier te voorspel waarop ’n moderne stad, soos New York of Londen, 200 jaar van nou af vernietig sal word, en om dan uitdruklik te sê dat dit nooit weer bewoon sal word nie. Die feit dat Jesaja se profesie bewaarheid is, is natuurlik die heel merkwaardigste! *

In hierdie reeks artikels het ons van die bewyse ondersoek wat miljoene mense daarvan oortuig het dat die Bybel betroubaar is. Hulle stel dus hulle vertroue daarin as ’n betroubare gids om hulle voetstappe te rig. Vind gerus meer uit oor die Bybel sodat jy self kan besluit of jy dit ook kan vertrou.

^ par. 4 Weervoorspellings dui aan wat waarskynlik sal gebeur. Bybelprofesieë is deur God geïnspireer, wat gebeure kan rig as hy kies om dit te doen.

^ par. 6 Vir meer inligting oor die vervulling van Jesaja se profesie, sien bladsye 27-29 van die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 8 Vir meer voorbeelde van Bybelprofesieë en die geskiedkundige feite wat die vervulling daarvan bevestig, sien bladsye 117-33 van die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.