Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bloedarmoede – Oorsake, simptome en behandelings

Bloedarmoede – Oorsake, simptome en behandelings

 Beth sê: “Ek het bloedarmoede gehad toe ek ’n tiener was. Ek was lusteloos, ek het gou moeg geword, my bene het gepyn en dit was vir my moeilik om te konsentreer. My dokter het ysteraanvullings vir my voorgeskryf. Ek het dit gedrink, en ek het ook gesonder begin eet. Ek het gou weer beter begin voel.”

 Beth se gesondheidsprobleem is algemeen. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het twee miljard mense – omtrent 30 persent van die wêreld se bevolking – bloedarmoede. In ontwikkelende lande word daar geskat dat 50 persent van alle verwagtende vroue en 40 persent van die voorskoolse kinders bloedarmoede het.

 Bloedarmoede kan ernstige gevolge hê. In ernstige gevalle kan dit tot hartprobleme en selfs hartversaking lei. In party lande “dra [bloedarmoede] by tot 20 persent van alle sterftes onder ma’s”, sê die WGO. Babas wie se ma’s bloedarmoede het as gevolg van ’n ystertekort – die algemeenste vorm van bloedarmoede – kan te vroeg gebore word en kan selfs te min weeg by geboorte. Kinders met bloedarmoede groei dalk stadiger en kan maklik infeksie kry. Maar bloedarmoede as gevolg van ’n ystertekort kan gewoonlik gekeer of genees word. a

Wat is bloedarmoede?

 Bloedarmoede is ’n mediese toestand. Eenvoudig gestel, mense met bloedarmoede het nie genoeg gesonde rooibloedselle nie. Daar is verskillende redes hiervoor. Om die waarheid te sê, wetenskaplikes het al meer as 400 vorme van bloedarmoede geïdentifiseer! Die toestand kan tydelik of chronies, ernstig of nie so ernstig wees nie.

Wat veroorsaak bloedarmoede?

 Bloedarmoede het drie hoofoorsake:

  •   Bloedverlies verminder die hoeveelheid rooibloedselle in die liggaam.

  •   Die liggaam maak nie genoeg gesonde rooibloedselle nie.

  •   Die liggaam vernietig rooibloedselle.

 Bloedarmoede as gevolg van ’n ystertekort word beskou as die algemeenste vorm van bloedarmoede in die wêreld. Wanneer die liggaam ’n ystertekort het, kan dit nie genoeg normale hemoglobien maak nie. Hemoglobien maak dit vir rooibloedselle moontlik om suurstof te dra.

Wat is die simptome van bloedarmoede as gevolg van ’n ystertekort?

 Aan die begin is bloedarmoede dalk nie so ernstig nie, en mense besef dalk nie eers dat hulle dit het nie. Hoewel daar verskillende simptome van bloedarmoede as gevolg van ’n ystertekort kan wees, sluit dit die volgende in:

  •   Verskriklike moegheid

  •   Koue hande of voete

  •   Swakheid

  •   Bleekheid

  •   Kopsere en duiseligheid

  •   Borspyn, hartkloppings, kort van asem

  •   Swak naels

  •   ’n Swak eetlus, veral onder babas en kinders

  •   ’n Lus om ys, stysel en grond te eet

Wie is geneig om dit te kry?

 Vroue is geneig om bloedarmoede as gevolg van ’n ystertekort te kry omdat hulle bloed verloor gedurende menstruasie. Swanger vroue is ook geneig om dit te kry as hulle dieet nie genoeg folaat, of foliensuur, ’n B-vitamien, bevat nie.

 Babas wat te vroeg gebore is of wat by geboorte te min weeg en wat nie genoeg yster kry uit borsmelk of bottelmelk nie.

 Kinders wat nie ’n verskeidenheid gesonde kos eet nie.

 Vegetariërs wat nie genoeg yster inkry nie.

 Mense wat chronies siek is, soos dié met bloedsiektes, kanker, nierversaking, bloeiende maagsere of sekere infeksies.

Hoe om bloedarmoede te behandel

 Nie alle vorme van bloedarmoede kan gekeer of genees word nie. Maar dié wat veroorsaak word as gevolg van te min yster of vitamiene, kan gewoonlik gekeer of genees word deur ’n gesonde dieet te volg wat die volgende bevat:

 Yster. Gevind in vleis, boontjies, lensies en donkergroen blaargroentes. b Dit kan ook help om ysterpotte en -panne te gebruik, want volgens navorsing kan dit die yster in jou kos vermeerder.

 Folaat. Gevind in vrugte, donkergroen blaargroentes, groenertjies, nierboontjies, kaas, eiers, vis, amandels en grondboontjies. Dit word ook gevind in graanprodukte met vitamiene. Dit sluit brood, pap, pasta en rys in. Die sintetiese vorm van folaat is foliensuur.

 Vitamien B-12. Gevind in vleis, suiwelprodukte, pap waarby vitamien B-12 gevoeg is en sojaprodukte.

 Vitamien C. Gevind in sitrusvrugte en -sappe, soet- en brandrissies, broccoli, tamaties, spanspek en aarbeie. Kos met vitamien C help jou liggaam om yster te absorbeer.

 Kosse kan verskil van plek tot plek. Vind uit watter plaaslike kosse die noodsaaklike voedingstowwe het. Dit is belangrik as jy ’n vrou is, veral as jy swanger is of beplan om swanger te word. As jy na jou gesondheid kyk, kan jy die kanse verminder dat jou baba bloedarmoede sal hê. c

a Die inligting in hierdie artikel oor eetgewoontes en dinge wat verband hou hiermee, kom hoofsaaklik van die Mayo Clinic en The Gale Encyclopedia of Nursing and Allied Health. Gaan gerus na ’n dokter as jy dink dat jy bloedarmoede het.

b Moenie ysteraanvullings neem of vir jou kind gee voordat jy nie eers met ’n dokter gepraat het nie. Te veel yster kan jou lewer beskadig en ander probleme veroorsaak.

c Dokters behandel soms bloedarmoede deur ’n bloedoortapping te gee, iets wat Jehovah se Getuies nie aanvaar nie. – Handelinge 15:28, 29.